Ek Ansie Swartz is in 2009 aangestel as skoolhoof by Skeerpoort Primary School — 'n "Section 21" skool waar die leerders nie skoolgeld betaal nie. Die leerders is van 2 informele nedersettings: Shumbuch en Orange Farm. Hulle was baie arm, honger, en koud in die winter. In totaal was daar plus minus 300 leerders in die skool.
Toe ek daar aangestel is as hoof was dit 'n baie moeilike tyd — die fondse was min. En toe stuur die Here vir ons 'n Engel om te help: PAULI KOCH! Sy het net een dag by die skool aangekom en haar hulp aan gebied. Sy het die gemeenskap van Harties genader — boere, winkeleienaars, slaghuiseienaars, bestuurders van winkels — om kos in te samel vir die skool. Haar organisering was 'n GROOT sukses!
Vir 6 JAAR kon ons elke dag vir plus minus 300 leerders vrugtesap, broodjies met grondbonebotter en 'n vrug gee om te eet, en 1 uur het die leerders 'n lekker bord warm, gesonde kos gekry. Elke vakansie het Pauli Koch gesorg dat 300 leerders elkeen 'n pakkie kos kry — rys, mieliemeel, tee, poeiermelk, suiker, blikkieskos, broodmeel, olie. Vir die winter het sy gesorg dat elke leerder 'n warm trui, kouse, en 'n kombers kry.
Pauli het ook gehelp dat Quintin Motebele — 'n leerder wat goed presteer het — 'n beurs kon kry by Hartbeespoort Hoërskool asook koshuisverblyf vir 5 jaar. Hy het matriek geslaag met universiteitstoelating. Ons het hom gehelp om by die Universiteit van Pretoria in te skryf. Hy het 'n graad in Landbou verwerf en is as plaasbestuurder aangestel op Levubu.
DANKIE PAULI vir jou onbaatsugtige liefde! Mag die Here jou seën met sy groot liefde en genade!